Jo Black – SOLD OUT

Jo Black – SOLD OUT

clintonlubbe__joblack025A9239 ss
time 19:00

28/09/2017

Kunstenaar Naam – Jo Black
Genre/Styl Afrikaans
Datum – Donderdag 28 September 2017
Tyd – 19H00
Koste –  R130.00 pp

Jo Black se debuutalbum bereik goue status binne 6 weke. 

Na maande se wag, het Jo Black sy debuutalbum, “Skepe,” vroeg in April uitgereik. Maar hy hoef nie maande te gewag het om die goeie nuus te ontvang dat verkope die 15 000-kerf verbygesteek het nie. Om die waarheid te sê, 6 weke was al wat nodig was.

Vra maar enigiemand in die musiekbedryf – dis amper ongehoord vir ‘n nuwe kunstenaar om daardie hoogtepunt so gou te bereik. Wel, nuwe kunstenaar in die sin dat dit sy eerste album is. Maar eintlik sing Jo al vir 16 jaar. Eers in kuierplekke en toe in kerke. En dis waar jy hom dalk vandag nog sou raakloop so tussendeur al sy “Be that Guy” motiveringspraatjies wat hy by skole hou om vir jongmense te sê: “Wees goed vir jouself en vir ander.” Maar toe nader musiekvervaardiger en liedjieskrywer Johan Vorster hom en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Die video van die titelsnit, “Skepe,” is in Desember 2016 bekendgestel, en 5 maande later staan dit reeds op meer as 1 022 000 Youtube trefslae. Dit was al klaar ‘n aanduiding dat die debuutalbum ‘n sukses sal wees, maar presies hoe groot en hoe vinnig, het Jo heel onkant gevang. Op ‘n goeie manier natuurlik. Nie dat die skielike roem na sy kop toe sal gaan nie – daarvoor hou sy vrou, Debbie, en sy twee dogters, Dinieke (7) en Miané (4), sy voete vir hom plat op die aarde. “Jo is die tipe kunstenaar wat een keer elke 10 jaar verby kom, soos ‘n Bok van Blerk of ‘n Theuns Jordaan. Ek glo Jo se naam sal eendag tussen die grotes van afrikaanse musiek genoem kan word” het Johan Vorster gesê.

Intussen klim die fisiese en digitale aankope van die album met sy 13 oorspronklike liedjies dag na dag. Jo het ook reeds die tweede treffer vanaf die CD bekend gestel. Met die titel “Bring die hoop weer terug,” is dit geen verrassing dat dit ‘n inspirerende liedjie is nie en dit word reeds landwyd deur radiostasies gespeel. Boonop word die musiekvideo van die nuwe treffer binnekort vrygestel. Dit sal natuurlik verder bydra tot verkope van die album in CD winkels asook op Apple Music en iTunes. Voeg daarby al die beplande optredes vir die res van die jaar, en dit word gou duidelik dat ons nog baie van die man met die baard gaan sien en hoor.