Lieflinge se Miljoene Stemme

Lieflinge se Miljoene Stemme

Lieflinge Oktober 2017
time 20:00

10/11/2017

Kunstenaar Naam – Lieflinge
Opvoering Naam – Lieflinge se Miljoene Stemme
Datum – Vrydag 10 November 2017
Tyd – 20H00
Koste –  R140.00 pp

Die samesmelting van ‘n klokhelder mans- en vrouestem in duet hou ‘n eiesoortige, magiese bekoring in – iets wat Lieflinge, Rudi Claase en Charné Hugo, se splinternuwe album uitstekend beklemtoon met vokale swier en styl!

Hierdie dubbel-CD album bied ‘n diep en ryke verwewing van kraakvarse- en nostalgiese melodieë wat in ‘n kleurvolle versameling van klassieke-, lig Afrikaanseen selfs pop-klanke uiting vind.

Die album beslaan 25 snitte waarin die dawerende klanke van Rudi en Charné se stemme indrukwekkende hoogtes verken, maar sielslirieke steeds onpretensieus en gegrond in die sout, suur, bitter en soet van die lewe – in tema’s van liefde, verraad, verlange, hoop, dapperheid, vrede en vriendskap – delf.

Die eerste CD is aan keurige Afrikaanse snitte gewy – van die hoër tempo, ritmiese “Jy slaan my asem weg”, “Miljoene stemme”, “Bang” en “Omdat ek jou liefhet” tot die rustig-aangrypende “Die maan se trane” en “As ons oud is”. Dekweergawes van ‘n paar van Afrikaans se groot legends – soos “Hoor jy my stem” en “Ritme van liefde” deur Rina Hugo en Dozi se “Pennies op die spoor” – is ook hierby ingesluit.

Die tweede CD is ‘n uitsoek-verrassingspakkie met treffers wat oor dekades heen strek: van “Smoke gets in your eyes” van die 1933 musiekblyspel, Roberta, “Try to remember” uit The Fantasticks en ‘n lekker bietjie country in die vorm van Freddy Fender se “Before the next teardrop falls” en Patsy Cline se “Walking after midnight”, tot ABBA se “I have a dream”, Dana Winner se “In love with you” en Sarah McLachlan se “Angel”.

Hiermee saam is daar ook die lekker bederf van die meevoerende “Barcarolle” – ‘n Franse operastuk uit die pen van Jacques Offenbach. Die album het ook ‘n sterk geestelike inslag met snitte soos “Jesus gee krag”, “As al die kerke afbrand”, “In the garden”, “Die Here wag reeds daar” en “Gloryland” – ‘n fyn, goue draadjie wat deurgaans gerusstel dat, die storms en onsekerhede van die lewens ten spyt, ‘n Hoër Hand altyd aktief en in liefde betrokke is.

Bespreek jou selfdruk kaartjies by Tixsa

click here tixsa