Touch of Class

Touch of Class

Touch of Class 2
time 19:30

21/09/2017

Kunstenaar Naam – Touch of Class
Datum – Donderdag 21 September 2017
Tyd – 19H30
Koste – R150.00 pp

In ’n klas van hulle eie. ‘Hoendervleismooi’ is die perfekte woord om die bekroonde musiekgroep, Touch of Class, se werk op te som. Hierdie duo, wat oorspronklik bestaan het uit Deon van der Merwe en Ronell Erasmus, maak al sedert 1989 naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en was aanvanklik die begeleidende orkes vir groot name soos Anneli van Rooyen, Manuel Escorcio en André Schwartz.

In die vroeë negentigs het die musiekpaar se loopbaan behoorlik vlam gevat met hulle eerste album, Ek en my Meisie, wat in 1992 goue- (25 000-eenhede verkoop) en in 1994 platinumverkoopstatus (30 000-eenhede verkoop) bereik het. Verskeie goue albums het gevolg, waaronder Bamboesbos, Stamp daai bene en Moenie worrie nie. Nadat Ronell in 2012 besluit het om op haar geestelike solo-loopbaan te fokus, het Ruhan du Toit by die groep aangesluit, en dit was die begin van ’n splinternuwe avontuur!

Ruhan en Deon het besluit om hulle uitsonderlike talent saam te span, die groep se repertoire uit te brei en weg te breek van die oorspronklike tong-in-die-kies-benadering. Vandag spog hulle met ’n nuwe kontemporêre klank, wat aanklank vind by jonk en oud. Deon se instrumentele vernuf en Ruhan se veelsydige vieroktaaf-stem is die perfekte pasmaats en, na twaalf albums saam, vermaak hulle gehore met ’n verskeidenheid musiekgenres uit verskillende eras, wat wissel van Country, Klassieke Rock, Rock’n Roll en Pop, tot Klassieke Musiek, Blues en ander tradsionele musiekstyle.

Alhoewel hulle vorige albums, Touch of Classic, Bring and Braai Volume 1, Bring and Braai Volume 2, Salute the Legends: Gé Korsten, Salute the Legends: Groep 2, Salute the Legends: Smokie, Salute the Legends: Classic Rock Volume 1, Salute the Legends: Demis Roussos & Joe Dolan, Salute the Legends: Elvis, Salute the Legends: Show DVD en Dans in die Reën almal baie goed ontvang is, is dit die dubbelalbum wat in 2016 uitgereik is, 100 Duisend Perde, wat aanhangers se asems behoorlik weggeslaan het. Dit het nie net binne sewe maande platinumverkoopstatus bereik nie, maar ook verskeie treffersparade-treffers – waaronder Ek steek my hand op – opgelewer, wat gereeld lugtyd op die radio en kassie geniet. 

Oor die jare, het die musiekpaar die verhoog gedeel met van die land se voorste kunstenaars by van die grootste musiekfeeste en –konserte. Hulle sielvolle weergawe van die bekende Simon & Garfunkel-treffer, The Sound of Silence, het die gehoor op hulle voete gehad gedurende hulle optredes by Classics is Groot en Afrikaans is Groot in 2016 en die musiekvideo is, sedert die vrystelling in Junie 2016, deur meer as twee miljoen mense op YouTube gekyk.

Hierdie musiekmeesters het beslis vir hulself ’n stewige plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf kom vestig. Aanhangers kan, in 2017, uitsien na ’n splinternuwe album (Touch of Classic Volume 2, wat onderandere Yesterday saam met Coleske gaan insluit) en verskeie optredes, waaronder Classics is Groot. ń Lewendige DVD-opname is ook in die pyplyn vir die duo. Touch of Class se roerende en uniek aanslag, doen hulle naam beslis gestand, want dié musikante is regtig in ’n klas van hulle eie.

DIE MANNE AGTER DIE MUSIEK

Deon van der Merwe is ’n bekroonde kitaarspeler en een van die oorspronklike stigterslede van Touch of Class. Buiten vir sy betrokkenheid by die groep, het hy ook verskeie suksesvolle kitaaralbums uitgereik, waaronder Kitaarboogie, Hits of The Shadows, Crying Guitar en A tribute to Ricardo Bornman.
Laasgenoemde is in 2008 met ’n SAMA-toekenning vereer. Dié saggeaarde musikant, wat op vyftien begin kitaarspeel het, spog ook met ’n Meestersgraad in Kliniese Sielkunde. Alhoewel hy daarvan sou hou om met laasgenoemde ’n verskil in mense se lewens te maak, is dit sy allesoorheersende passie vir musiek wat harte raak. Hy luister na ’n wye verskeidenheid genres – veral Barok, Spaanse musiek en meer progressiewe Country en Blues – omdat hy voel dit hom meer oor sy instrument kan leer. Deon is vreeslik dankbaar vir al die sukses wat hy tot dusver in sy loopbaan bereik het en beskou dit as ’n voorreg om saam met Ruhan te werk. “Ek bewonder sy stemkwaliteit, vermoë om alle style te interpreteer en sy stem perfek aan te wend. Hy is alles wat ’n mens van ’n vriend en ’n vennoot kan verlang.”

Ruhan du Toit se veelsydige fluweelstem steel al harte vandat hy nog in die laerskool was. Hy het sy eerste album uitgereik op die ouderdom van tien en dit was maar net die begin van hierdie singende wonderkind se musiekreis. Sedertdien het hy gemiddeld 150 vertonings per jaar gedoen, rolle gehad in verskeie musiekblyspele en teaterproduksies, asook vier solo-albums en twee duet-albums saam met sy broer opgeneem. Hy is tans die hoofsanger van Touch of Class en meen dat dié voorreg hom te beurt geval het omdat hy op die regte tyd op die regte plek was. Hierdie talentvolle kunstenaar, wat homself beskryf as skaam en teruggetrokke, luister graag na sinvolle musiek en beskou dit as ’n seën om elke dag te kan doen waarvoor hy lief is en dit nog boonop met sy vrou te kan deel. Ruhan glo dat musiek ’n universele taal praat en het groot bewondering vir die feit dat Deon, na al die jare in die bedryf, nog kan opgewonde raak oor nuwe klanke. “Ek leer vreeslik baie by my vennoot. Ek het nog min mense teëgekom wat so passievol is oor musiek en sy instrument en dít is aansteeklik.”

Bespreek jou selfdruk kaartjies by Tixsa

click here tix