july, 2018

26jul19:3021:30Jay - Solank sal ek jou liefhêR150pp

Jay - Solank sal ek jou liefhe

Time

(Thursday) 19:30 - 21:30

more

Event Details

Platinumstatus is waar JAY sy beste werk doen. Sedert hy in 2010 op sy eie paadjie vertrek het, eggo JAY se rekordsukses, ná Eden, in elke projek wat hy aanpak. Of dit nou die indrukwekkende versameling duette met Lianie May is, of die polsende ritmes, stemkwaliteit en bindende lirieke van sy eie materiaal, JAY se perfekte balans van melodie waarborg weereens sukses, snit vir snit, op sy derde vollengte solo-album.
Dit was ’n merkwaardige 17-jaar lange reis wat JAY gebring het tot waar hy vandag tuis is.
Ná 12 van hierdie fenominale jare as een deel van die groter geheel van Eden, het hy gedurende die afgelope paar jaar sonder begeleiding gevlieg en ook een van die mees suksesvolle duet-albums wat hierdie land in dekades gehoor het, vrygestel. “Die treffer wat ek aan Lianie May se sy geniet het met die vrystelling van Bonnie en Clyde en Vir Liefde, het beteken dat enigiets anders, insluitend So Lank Sal Ek Jou Liefhê, op langverlof geplaas is,” verduidelik hy met ’n verskonende glimlag.

Met talle SAMA, Ghoema en Huisgenoot Tempo toekennings asook vier platinum en drie dubbelplatinum CD’s agter sy naam, hou JAY duidelik van goeie geselskap. Beide sy twee solo-albums en Bonnie En Clyde het meer as 40 000 eksemplare verkoop binne weke ná vrystelling. Of dit nou 2011 se rol as Jakes in die trefferfilm Platteland, sy marathon 12-jaar loopbaan met Eden, of sy vele suksesse in die loop van die laaste ses vollengte albums en DVD-vrystellings is, JAY het sy naam verleen aan platinum, en in meeste gevalle, dubbel-platinum treffers. Inderdaad indrukwekkende resultate.

2014 het die vrystelling van ‘n splinternuwe EDEN-album – Nooit Oud Raak Nie gemerk. Die eerste single Dirty Dancing het orals trefferparades gepronk en het selfs ‘n Ghoema nominasie ontvang vir Beste Liedjie van die Jaar. Eden is ook in dieselfde jaar vir ‘n Ghoema benoem as Groep Van Die Jaar en het ook ‘n SAMA nominasie vir hulle album ontvang. EDEN het einde 2016 finaal hul swaneswang gemaak. Na die sukses van hulle eerste duetalbum het Jay & Lianie in Mei 2017 hul 2de duet album, Vir Liefde, uitgereik wat binne slegs ‘n paar weke goue status behaal het. In 2017 het hulle 4 Ghoema nomisasies ontvang waar hulle het met beste musiekvideo vir hulle liedjie, Vir
Liefde weggestap het.

Enige JAY aanhanger sou waarskynlik sê vier jaar was baie lank om te wag vir So Lank Sal Ek Jou Liefhê, maar diegene ná aan die man wat dit gemaak het, weet dat geen opname naby die kruin van die trefferlyste kom of platinumstatus behaal as dit nie die beste is wat hy in pop-perfeksie kan omskep nie. As jy ‘n aanhanger is gaan jy die album terdeë geniet en as jy nog nie een is nie gaan hierdie album jou beslis een maak.

So Lank Sal Ek Jou Liefhê bestaan uit 12 oorspronklike snitte waarvan 11 vars uit die pen van die talentvolle liedjieskrywer, Johan Oberholzer is. Die musiekvideo van die titelsnit het reeds meer as 500 000 kyke gekry en styg steeds elke dag. Die hartroerende duet, Afgrond saam met Tarryn Lamb is ook ‘n hoogtepunt op die album sowel as Suurstof, Lê Bietjie Langer, Die Hart Wil Hê Wat Die Hart Wil Hê en Trots Afrikaans. Die grappige musiekvideo vir Lê Bietjie Langer is nou onlangs bekend gestel en het al meer as 60 000 kyke in byna twee weke op YouTube verwerf.

Hy het ook in April die gesogde Ghoema Musiektoekenning vir Beste Pop Album deur ‘n Manlike Kunstenaar met musiekvriend, Kurt Darren gedeel en was self in twee ander kategorieë ook benoem.

Book your tickets

Tixsa

Price

R150pp

X